E-mail Print

27 Jun 2010:
Ds. Tinus van Zyl

« Terug na preke


Teks: Romeine 14:1-12

Hoe lyk 'n gemeente?

Hoe lyk 'n gemeente waarin die liefde en genade van God sigbaar en tasbaar aanwesig is? Dit is die vraag wat Paulus probeer beantwoord in Romeine 12-16. In Romeine 1-11 het Paulus dit baie duidelik gemaak dat ons almal, almal gesondig het, maar dat ons, danksy die onverdiende liefde en genade van God, die nuwe lewe in Christus kan leef. Nou, in Romeine 12-16, probeer Paulus beskryf hoe 'n gemeente lyk, waarin hierdie onverdiende liefde en genade van God vir verloste sondaars prakties uitgeleef word, in die manier waarop mede-gelowiges teenoor mekaar optree.

Gestuurde gemeente

'n Paar jaar gelede het ons gemeente baie gepraat oor die 8 patrone van 'n gestuurde gemeente. Een van die patrone het gesê dat 'n gemeente, deur die manier waarop ons teenoor mekaar optree, die hart van God sigbaar maak.

Konflik

En veral in konflik-situasies. Dit gaan nie oor hoe ons teenoor mekaar optree in 'n erediens, of by 'n potjiekos-ete nie. Dit gaan oor die manier waarop ons teenoor mekaar optree wanneer ons oor 'n saak verskil, wanneer daar konflik is oor musiek-style in die kerk, wanneer ons debateer oor die kleindoop en die grootdoop, wanneer ons spiritualiteite en persoonlike smaak met mekaar bots.

Sigbare liefde

Die vraag is, word die liefde en genade van God sigbaar in die manier waarop ons teenoor mekaar optree in sulke tye, in konflik-situasies? Kan ons, terwyl ons van mekaar verskil, wanneer ons werklik met mekaar bots, doen wat in Romeine 12 staan, naamlik om hartlike broederliefde teenoor mekaar te bewys, om eerbied teenoor mekaar te bewys, om te volhard in gebed, om gasvry te bly, om jou vervolgers te seën, om eensgesind te wees, om nie hooghartig te wees nie, maar nederig te bly, om nie eiewys te wees nie, om nie kwaad met kwaad te vergeld nie, om goedgesind teenoor alle mense te wees, om sover dit moontlik is, in vrede met alle mense te lewe?

Ware toets

Die manier waarop ons verskil van mekaar, die manier waarop ons as gelowiges teenoor mekaar optree, nie net in 'n erediens of by 'n potjiekos-ete nie, maar wanneer ons van mekaar verskil en met mekaar bots, is die ware toets of ons 'n gemeente is wat leef vanuit die onverdiende liefde en genade van God. Ons heel beste getuienis na na die wêreld, die beste manier waarop ons God se liefde en genade vir die wêreld kan demonstreer, is nie ons uitreik-aksies of sopkombuis nie, maar die mate waarin ons mekaar met liefde en genade hanteer waaneer ons in konflik-situasies is.

Sleutel

Die sleutel om dit reg te kry, om in liefde en genade teenoor mekaar te lewe, ook in konflik-situasies, is volgens Paulus om mekaar nie te oordeel of te veroordeel nie, maar om mekaar te aanvaar soos wat God vir ons aangeneem het toe ons nog sondaars was.  Ons moenie ons verskille as 'n bedreiging sien nie, maar as 'n gawe ontvang, want ons is verskillende lede van een liggaam, en elkeen van ons het verskillende gawes van God ontvang waarmee ons die liggaam moet dien, sê Paulus in Romeine 12.

Aanvaar

Die woord wat Paulus gebruik, wat in ons Bybel vertaal word met "aanvaar", is 'n woord wat beteken om te ontvang, om vir jouself te neem, na jouself toe te trek, dit kan selfs beteken om iets te eet, om iets in te neem. Dit is dus 'n woord wat baie meer suggereer as om iemand anders te tolereer of te verdra. Paulus sê nie: "Los mekaar uit!" nie. Paulus sê nie: "Laat mekaar begaan!" nie. Paulus sê neem mekaar aan, soos God julle aangeneem het. Ontvang mekaar, soos wat jy geskenk van God af sal ontvang. God het ons vir mekaar gegee, met al ons verskille, om mekaar te bedien met ons verskillende gawes.   

Toleransie

Ons het al in die verlede daaroor gepraat dat die term wat vandag so gewild is, toleransie, nie genoegsaam is om die Bybelse begrippe van liefde en aanvaarding oor te dra nie. As toleransie vir ons beteken om mekaar uit te los en te laat begaan, dan raak toleransie baie gou apatie, dan raak toleransie baie gou 'n eiesinnigheid wat sê: "As jy my uitlos, dan sal ek jou uitlos." Dit is nie Bybelse aanvaarding en liefde nie.

Bybelse toleransie

As ons egter teruggaan na die wortel van die woord "toleransie" – tolero – om te dra, dan is ons nader aan hoe die Bybel praat oor aanvaarding en liefde. As ons mekaar nie net verdra nie, maar ons mekaar regtig dra, as ons gelyke sorg vir mekaar dra, as ons mekaar se laste dra, dan sal ons 'n Bybelse toleransie vir mekaar hê, wat veel meer inhou as die gewilde toleransie van vandag, wat eintlik net 'n masker vir apatie is.

Mekaar nader trek

In die kerk is dit nie goed genoeg om te sê: "Ag man, ek sal jou uitlos om te maak soos jy wil maak, en dan los jy my uit om te maak soos ek wil maak" nie. Paulus sê ons moet mekaar aanvaar, ons mekaar nader trek, ons moet mekaar ontvang as gawes wat God vir ons gegee het om mekaar te versterk. 

Sensitiewe sake

Dit geld veral wanneer dit kom by sensitiewe sake wat na ons hart en spiritualiteit lê, soos verskillende musiek-style in die erediens, of kleindoop en grootdoop. Paulus noem juis die mees sensitiewe sake in die kerk van sy tyd as voorbeelde. Rein en onrein kos, en die heiliging van die Sabbatdag, was die mees sensitiewe sake vir gelowiges van daardie tyd. Vir ons vandag klink dit nie na 'n baie emosionele en sensitiewe verskilpunt nie – dit klink vir ons amper na 'n intellektuele, interessante gesprek – maar dit het aan die hart gelê van gelowiges se spiritualiteit en was 'n uiters sensitiewe en emosionele verskilpunt.

Moenie oordeel nie

Die geheim van liefde en aanvaarding, sê Paulus, is om nie in hierdie uiters sensitiewe sake oor iemand anders verhouding met God te oordeel nie. As jou verhouding met God versterk word deur nie vleis te eet nie, is dit goed so, solank jy nie iemand anders se verhouding met God veroordeel omdat hy wel vleis eet nie. As jou verhouding met God versterk word deur die Sabbatdag te heilig, is dit goed so, maar moenie jou broer oordeel wat werk op die Sabbatdag nie.

Net so, as jou verhouding met God versterk word deur 'n sekere tipe kerk-musiek, is dit goed so, solank jy nie iemand anders se verhouding met God veroordeel omdat hulle na enige musiek luister nie. En as jou verhouding met God versterk word deur die kleindoop, is dit goed so, maar moenie jou broer oordeel wie se verhouding met God versterk word deur die grootdoop nie. Elkeen moet net in sy eie gemoed oortuig wees van sy opvatting, en dit wat hy doen, doen tot eer van die Here. Elkeen van ons sal oor homself aan God rekenskap moet gee.   

Nie vir onsself nie

Ons moet onthou, sê Paulus, ons lewe nie vir onsself nie, maar vir God. Ons behoort aan God. Hierdie dinge wat ons doen – om nie vleis te eet nie of om die Sabbat te heilig; om die Here te aanbid met sekere kerklike liedere of om ons te laat doop – doen ons nie vir onsself nie, maar ons doen dit tot die eer van God. Om daarop aan te dring dat alles in die kerk gedoen moet word soos ek daarvan hou, maak dus geen sin nie, want ons doen nie hierdie dinge vir onsself nie, maar ons doen dit om God te eer.

God is die enigste een wat kan oordeel

En God is die enigste een wat kan oordeel oor dit wat aan Hom eer bring. Dit is onmoontlik vir ons om te weet en dit is onaanvaarbaar vir ons om te oordeel oor wat aan God eer bring en wat nie aan God eer bring nie. Toe die Fariseërs die mense wil stilmaak wat Jesus se lof besing, toe sê Jesus dat as hulle stilbly, dan sal die klippe sy lof besing. Toe Jesus se dissipels mense wat nie Jesus sy vyolgelinge is nie, wil gaan keer om in Jesus se Naam duiwels uit te dryf, toe stop Jesus hulle en sê: "Wie nie teen ons is nie, is vir ons."

Skepping eer God

Wie is ons om te oordeel, watter dade eer aan God bring en watter nie? Die ganse skepping bring onwetend, onbewustelik eer aan God. Nie net die mooie sonsopkoms en die indrukwekkende branders wat teen die rotse slaan, waarvoor ons mense waardering het nie, maar ook die buurman se hond wat onophoudelik in my ore blaf en die lastige slakke wat gedurig my tuin verniel, bring eer aan God, deur doodeenvoudig te doen wat God hulle gemaak het om te doen.

Wie is ons?

Wie is ons om daaroor te oordeel, en te sê dat iets of iemand se dade nie eer aan God bring nie? Elke knie sal uiteindelik voor die Here buig, en elke tong sal uiteindelik bely dat net die Here God is, die enigste Een wat kan oordeel oor dit wat aan Hom eer bring. God is so magtig, dat Hy selfs Petrus se verloëning en Judas se verraad, kon ombuig tot sy eer. So wie is ons om oordeel wat aan God eer bring en wat nie?

Heilige note

Vriende, daar is nie heilige musiek-note en onheilige musiek-note nie. Daar is nie heilige en onheilige musiek-instrumente nie. Daar is ook nie heilige en onheilige dope nie. Daar is nie heilige doopwater en onheilige doopwater nie. As jy water van die Jordaan af bring om jou in te laat doop, is dit nie heiliger as die gewone kraanwater wat ons in die doopvond gooi nie.

Heilig

Wat beteken heilig? Dit het twee betekenisse: 1) afgesonder 2) vir 'n spesifieke doel.

God is heilig

Daar is net Een wat heilig is, en dit is God alleen. God is heilig. En wanneer ons musiek-note vat, doodgewone, aardse, menslike musiek-note, en ons sonder dit af vir 'n spesifieke doel, naamlik om vir God daardeur eer te bring, dan word daardie musiek geheilig, omdat dit as 'n lofoffer vir God aangebied word, die enigste Een wat heilig is.

Luther

Daarom kon Martin Luther sonder enige gewetensprobleme die orrel-liedere wat in kroeë gesing is in die kerk inbring, want hy het dit afgesonder vir 'n spesifieke doel, naamlik om eer te bring aan God.

Water en wyn

Die water in die doovond is doodgewone water wat uit die kraan uitkom. Die brood en die wyn van die nagmaal, is doodgewone brood en wyn wat in die winkel gekoop is. Maar dit word afgesonder vir 'n spesifieke doel, om aan die enigste heilige God eer te bring, en net om daardie rede is dit heilig.

As ons koekies en lemoensap sou gebruik in plaas van brood en wyn, en ons sou dit afsonder met die doel om God daardeur te eer, sou dit geen verskil aan die nagmaal maak nie. Daar is baie kerke wat immers in kontekste van drankmisbruik en alkoholisme eerder druiwesap as wyn gebruik, en dit maak nie die nagmaal onheilig nie.

Waaroor gaan dit?

Liewe vriende, kom ons kom terug by waaroor dit eintlik gaan. Dit gaan oor ons onderlinge liefde vir mekaar en aanvaarding van mekaar binne die gemeente. Niks bring vir God groter eer as wanneer ons mekaar liefhet en aanvaar nie, want liefde is die volle uitvoering van die wet, sê Paulus in die vorige hoofstuk. Geen kerk-musiek, geen doop, kan vir God soveel eer bring, soos wanneer ons mekaar binne die gemeente van die Here aanvaar en liefhet te midde van al ons verskille nie. Wanneer ons mekaar nader trek en mekaar ontvang as geskenk van God af, juig die engele in die hemel die mooiste lofliedere tot eer van God.

Wêreld sien

God het ons vir mekaar gegee met ons verskillende gawes om mekaar te verryk en te versterk. Wanneer ons mekaar liefhet en aanvaar, veral in sensitiewe verskille en konflikte, sal die wêreld sien dat die liefde en genade van God werklik in ons leef. Amen.