E-mail Print

05 Dec 2010:
Ds. André van Wyk

« Terug na preke


Teks: Josua 24:13-24
EK & MY GESIN: ONS SAL DIE HERE DIEN         
Dis asof die Here dit nie genoeg in die Bybel kan sê nie: Ons leef uit sy genade alleen. Dis die een gedagte wat dwarsdeur die boek Josua herhaal: die Here stry die stryd vir sy mense; Hy behaal die oorwinning; Hy gee die land vir hulle. Hy het by monde van Josua gesê: Hy het al sy beloftes aan die vaders waargemaak; nie een daarvan het Hy nie nagekom nie(23:14). Die hele Josua-verhaal spel dit uit: God se mense leef uit die Here se hand. Alles kom van Hom. Ons leef uit sy genade alleen; Hy is die Een wat ons verlos en alles gee wat goed is.
Dis die storie wat Josua vertel wanneer hy in Josua 24 by Tera en Abraham begin en by die volk se blyplekke en landerye eindig (2-13). Sien, die volk Israel staan aan die vooraand van ‘n nuwe toekoms. Hulle is nou in die beloofde land. Josua 1-12 handel oor die verowering van die land en Josua 13-22 oor die verdeling van die grondgebied tussen die stamme. Tot hiertoe het die Here hulle getrou gelei. Nou volg die vraag:  Hoe nou verder? Josua is een van die dae nie meer daar nie. Wat gaan die volk dan met God se genade(verbond) maak? Sal hulle verstaan wat God se genade van hulle vra (of beter: impliseer, meebring)?
Dis asof Josua vandag met ons ook direk gesels. Die feit dat elkeen van ons vanoggend hier sit is bloot genade.  Ek is seker as jy op jou lewenspad terugkyk, jy talle plekke sal vind waar jy met sekerheid die absolute trou van die Here sal raaksien. Sy liefde en genade is daar. Alles wat jy het en is, is aan God te danke. Hy het jou gebring waar jy nou is.
Josua spel in ons teksgedeelte die implikasie vir Israel uit: Israel moet weier om hulle eie geskiedenis van afgodery (voor Abraham en in Egipte) te herhaal. Israel word egter nie gedreig nie; hulle is vry om - in die lig van die heilsgeskiedenis wat aan hulle voorgehou is - te KIES (15). Dis blykbaar in die aard van God se verbond dat die bondgenoot verplig is tot gehoorsaamheid, maar tog 'n vrye keuse het om die verbond te verbreek - en die gevolge te dra. Israel se keuse is egter nie in isolasie nie - Josua het klaar gekies: hy en sy huis (familie) sal die Here dien. Hy lei die keuse.
Die volk antwoord positief, in die lig van die Here se heilsdade aan hulle (16-18). Hulle bely "die Here.. is ons God". Dis egter asof Israel se keuse te vinnig gemaak is na Josua se sin. Hy begin weer 'n rondte (19-21), konfronteer hulle met die heiligheid van God en die vloek van verbondsverbreking (19-20). Jahwe se heiligheid vereis dat hulle Hom met algehele toewyding dien. Die volk antwoord egter weer positief (21).
By die doop van hierdie kindertjies vanoggend kom sê God van Sy kant af vir elkeen van hulle dat Hy hul God wil wees. Dat Hy, net soos met Israel, elkeen van hulle deel maak van Sy verbond.  God het vir Abraham gesê: “Ek bring ‘n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte. Dit is ‘n blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag.” (Genesis 17:7). Reg deur die Ou Testament lees ons dan hoe God ‘n pad met Sy volk gestap het.
Jesus Christus het hierdie verbond met Sy verlossingswerk waarvan ons lees in die Evangelies (Nuwe Testament) op ‘n nuwe en finale manier kom bevestig. Hy het dit vir alle mense kom moontlik maak om in ‘n persoonlike verhouding met God te leef. Te midde van ons sonde en gebrokenheid het Hy vir ons redding gebring. As teken hiervan het Hy die doop en die nagmaal gegee.
Hoekom doop ons kinders van gelowige ouers?  Juis omdat ons glo dat God ook kinders insluit in Sy verbond. Al verstaan die kinders nog nie hul doop nie, verander dit niks aan die geldigheid daarvan nie. Dit beklemtoon juis eerder die feit dat dit God is wat van Sy kant af deur Sy genade hulle ook as Sy kinders kies. Die doop bevestig opnuut God se blywende verbond. God kies om hierdie kindjie se God te wees en Hy gee die doop as teken daarvan.
Maar as ons oor die verbond praat, kan ons nie anders as om oor geloof te praat nie. Terwyl God vandag deur die teken van die doop vir elke kindjie sê dat Hy hul God sal wees, gaan Hy van hulle vra om as hulle groter is ‘n keuse te maak vir of teen Hom. Dis ‘n geloofskeuse wat elkeen van ons daagliks moet maak. Terwyl God Sy verbond in stand hou en sê hy wil ons God wees, vra Hy dan dat ons in geloof hierop moet antwoord en ons lewens daagliks in Sy hand plaas.

En daarom vra ons dat die ouers van hierdie kinders vanoggend ook ‘n doopbelofte moet aflê waar hulle belowe om hul kinders soos hulle groter word van God te leer, van Sy genadeverbond te vertel, vir hulle ‘n voorbeeld te wees in die uitlewing van hul Christenskap en hulle op te roep om ook in geloof God se genade te aanvaar. Elke dag moet ons ook soos Josua ‘n keuse maak en bely:  “Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.”
Daarom is dit vir my so wonderlik dat hier vanoggend vriende,familie en kennisse van die doopouers teenwoordig is. Vriende, hierdie belofte en keuse om die Here te dien, kan die doopouers nie alleen tot uitvoering bring nie. Hulle het langs die pad ondersteuning nodig om hierdie kinders groot te maak om elke dag ‘n keuse vir God te maak. Toe ek jonk was het die hele dorp se mense almal kinders groot gemaak. Nou staan ouers alleen. Mense is te bang om betrokke te raak by ander se kinders. Dis verkeerd!!  Die Here verwag van ons om mekaar by te staan en te help. Daarom moet elkeen van ons vanoggend die keuse maak waarvoor Josua die volk bring. Gaan ook ek en my familie die Here dien? Want dan vra God my om betrokke te raak by ander gelowiges en hul gesinne.
Vriende, om kinders groot te maak is nie maklik nie. Om hulle volgens die Here se wil groot te maak is nog moeiliker. Dat hulle eendag hul geloof in die Here sal bely, dis net genade. Mag ons Here elkeen van u en u families genadig wees!
OUERS KOM NA VORE    
·           Riaan en Debbie Koegelenberg wat vir Ben Daniel doop
·           Nick en Marianne van der Meulen wat vir Dylan Philip doop
·           Gerrit en Ursula Pienaar wat vir Emilie doop
·           Stefan en Vanessa Strydom wat vir Jana doop
·           Gert en Helet van der Merwe wat vir Nina doop

Doopgelofte

Julle het gehoor dat die doop ‘n Goddelike instelling is waardeur die Here Sy verbond van genade aan ons en ons kinders waarborg en aan ons al die gawes van Christus skenk. Om te bevestig dat julle die doop vir hierdie doel gebruik en nie uit gewoonte of bygelowigheid nie, moet julle opreg op die volgende vrae antwoord:
1.       Aanvaar en ontvang julle die belofte van God:
- dat Hy julle kind op die naam geroep het
- dat Hy julle kind sy eiendom gemaak het
- en dat Hy lewenslank 'n God vir julle kind sal wees?
2.       Belowe julle:
-          om hierdie kind groot te maak in die wete dat Jesus Christus uit liefde vir ons aan die kruis gesterf het en sodoende ons verlossing in genade bewerk het?
3.   Aanvaar julle die Bybel as die Woord van God en daarom die riglyn vir julle lewe? Verbind julle julleself om hierdie Woord aan julle kind oor te dra en voor te lewe?
4.       Aanvaar en ontvang julle die belofte van die kerk:
-           dat ons graag vir julle wil ondersteun, bemoedig en help met die grootmaak van hierdie kind
-          en dat ons vir hierdie kind 'n geloofsgemeenskap wil wees waarbinne die liefde en genade van God duidelik sigbaar sal word?              

Wat is hierop julle antwoord?

DOOP WORD BEDIEN
Ek wil graag hê dat ons as gelowiges nou hardop ons geloof bely. Wanneer ons as gelowiges die belydenis van ons geloof hardop opsê, getuig ons dat ons die Here wil dien. God hoor dit, en so ook die getuies rondom ons. Ons onderneem om getrou en gehoorsaam aan God te wees. Kom ons staan dan nou op en bely hardop saam ons geloof in die woorde van die Apostoliese Geloofsbelydenis.
AMEN