Feeste
Praatjie by die opening van die Mosaïek-Kunstefees, Durbanville Gemeente (2 Maart 2012) - Robert Vosloo
Oor kuns en geloof
Dankie vir die uitnodiging en geluk met ‘n wonderlik inisiatief. Ek dink die gedagte is dat ek met julle ‘n paar diep gedagtes oor die verhouding tussen kuns en geloof deel. Toe ek ‘n student was het ons op ‘n keer as deel van ons blootstelling aan ander Christelike tradisies vir ‘n paar dae in ‘n Rooms-Katolieke klooster gebly. In die oggende het ons saam met die Rooms-Katolieke vader Bybelstudie gedoen. Dit was wonderlike geleenthede en die vader het elke keer voor ons begin het ‘n kersie aangesteek. So teen die derde oggend het ek as ywerige teologie-student vir hom gevra: “Father, what is the deeper theological significance of the candles we light before we do Bible study?” Hy het my so half snaaks aangekyk en geantwoord: “No, these candles have no deeper theological significance. I light them because candles are nice.”
Daarom is die diepsinnigste ding wat ek dalk vanaand kan kwytraak waarskynlik om te sê dat ons kuns moet koop en waardeer, want kuns het nie ‘n dieper betekenis nie, kuns is “nice”. Maar dalk sal die organiseerders nie heeltemal gelukkig wees as ek hierby volstaan nie, so laat ek maar tog waag om ‘n aantal opmerkings oor kuns en geloof te maak, maar onthou dat wat ek eintlik wil sê is dat (goeie) kuns “nice” is.
Ek maak graag, soos ‘n goeie preek betaam, drie opmerkings. ‘n Eerste opmerking het te make met ‘n woord “misterie”. Op skool het ek ‘n laerskoolonderwyser gehad wat gesê het, of immers dit is hoe ek dit onthou: “Die lewe is nie ‘n probleem om op te los nie, maar ‘n misterie om te geniet”. Deur die jare sou ek telkens aan hierdie opmerking terugdink.
In die filosofie sou heelwat denkers deur die eeue nadink oor die onderskeid tussen ‘n probleem en ‘n misterie (ons kan byvoorbeeld dink aan Gabriel Marcel). ‘n Probleem, sou hulle argumenteer, kan jy oplos, dit hou jou ‘n tydjie besig en dan beweeg jy aan, of omdat jy dit opgelos het of omdat jy vrede daarmee gemaak het dat ander dit maar moet oplos. ‘n Misterie, daarteenoor, laat hom nie so maklik oplos nie. Dit is eintlik in wese onoplosbaar. ‘n Blokkiesraaisel of ‘n wiskunde-som is ‘n probleem. Jy of immers anders – waarskynlik iemand anders – kan dit regkry of oplos. Maar – sou ons kon sê – die liefde, of God, of die geloof, is ‘n misterie. Wanneer iemand pretendeer dat hulle ‘n misterie opgelos het, moet ‘n mens versigtig vir hulle “oplossings” wees. So ‘n oplossing berus waarskynlik dan op ‘n gevaarlike verskraling, of ‘n hawe waarheid of ‘n naïewe vergissing.
Ek is nie ‘n kunstenaar nie (die wat my al sien teken het sal hiervan kan getuig), en ook nie ‘n kuns-kenner nie, en ek besef ook dat dit nie so eenvouding is om tussen goeie en slegte kuns te onderskei nie. Maar ek wil graag vanaand noem dat die kunsuitinge wat tot my spreek is dié wat iets van die misterie van die lewe respekteer. Dit is kunswerke wat nie voorgee om eenvoudige en eenduidinge antwoorde te bied nie, maar wat kompleksiteit honoreer, wat dubbelsinnighede tolereer en paradokse akkommodeer. Sulke kunswerke – wat die misterie van die lewe ernstig neem – laat nie nadenke stol nie, maar roep juis refleksie op. Die tipe kuns wat my dus aantrek, is die kuns wat volkome begrip weerstaan, maar tog jou aan die dink hou, wat gesprek uitlok en vir meerdere interpretasies vatbaar is. Dit is die tipe kuns wat jou laat terugkeer en weer-kyk. Dieselfde geld vir my vir geloof. Soos goeie kuns, respekteer die tipe geloofsuitlewing wat my interesseer die misterie van die lewe. Goeie kuns, en verantwoordelike geloof, weet dat die lewe nie ‘n probleem is om op te los nie, maar ‘n misterie om te geniet.
Ek wil graag ook ‘n tweede opmerking maak: Naas die feit dat goeie kuns die misterie van die lewe respekteer, doen dit iets aan jou oë, aan jou manier van kyk. Goeie kuns laat ons anders kyk, met ander oë, en op ‘n ander manier. As ek Engelse terme kan gebruik: Goeie kuns is meer soos ‘n “icon” as ‘n “idol”. ‘n Franse Rooms-Katolieke filosoof Jean Luc Marion het mooi oor hierdie verskil geskryf. Onder “idol” bedoel hy dan nie iets soos “American idols” nie, maar meer soos ‘n die gebruik van die woord as afgod. ‘n “Idol” is meer soos ‘n spieel. As jy na ‘n “idol” kyk, sien jy eintlik net jouself; jou blik of uitkyk word op jouself teruggewerp. Dit is wat afgode doen, dit bring ‘n ongesonde selfgerigtheid. Maar ‘n “icon” – daarteenoor – help ons om anders te kyk; dit is nie ‘n spieël nie, maar meer soos ‘n venster. Dit maak dat ons nie net onsself raaksien nie, maar dieper en deegliker kyk. Ons sien deur die werk na ‘n ander realiteit (of ons sien deur hierdie venster hierdie realiteit anders). In die Oosterse tradisie van ikone word ‘n ikoon dan juis beskryf as “‘n venster op die ewigheid”. Soos ‘n “icon” op ‘n rekenaar, bied dit ‘n deurgang na iets anders. Goeie kuns sou ek wou waag om te sê, doen ook dit. Iemand het dit mooi gesê: “Good art un-selfs the self, while bad art pulls us deeper into the pools of narcissism”. En wat geld vir kuns, geld myns insiens ook vir geloof. Ongesonde geloofsbelewing draai ons terug op die self. Martin Luther he gesê: sonde is om in jouself ingekeer te wees (incurvatus in se). Die evangelie funskioneer daarom meer soos ‘n ikoon, dit maak ons oë oop om anders te kyk. Die aanraking van die evangelie in ons lewe oorweldig ons met liefde, en hierdie liefde maak nie blind nie, maar laat ons sien. Om die kerkvader Augustinus se woorde te gebruik: ubi amor, ibi oculus. Waar daar liefde is, daar is sig (insig en uitsig). Daar sien ons dieper en deegliker.
Om ons vanaand is wonderlike kuns. Maar dit is nie maklik om tussen goeie kuns en slegte kuns te onderskei nie. Ek haal graag die storie aan van die man wat in die Prado in Madrid na ‘n kunswerk van Picasso gekyk het en uitgeroep het: “Dis belaglik, my 6-jarige dogter kon dit geteken het”. Met die hoor van hierdie opmerking kon die persoon wat die kunswerke oppas (en dit vir 20 jaar lank al doen) homself nie beteuel nie: “Meneer, jy dink jy interpreteer die kunswerk, maar die kunswerk interpreteer eintlik vir jou.” Dit is inderdaad dikwels die geval. Maar ek wil tog waag: goeie kuns respekteer die misterie van die lewe. En: goeie kuns help ons om weg van ‘n ongesonde self-obsessie te kyk. Dit gee ons ‘n wyer en wonderliker perspektief. Dit draai ons blik na die ander, ook die Ander met ‘n hoofletter, al is dit indirek.
Maar ek wil graag ook ‘n derde punt aanraak wat ek meen die rede is waarom goeie kuns so tot ons spreek, en dikwels deur ons verdedigingsmeganismes breek en ons kan oorrompel op ‘n manier wat baie diep emosies by ons kan uitlok. Vir my hang dit saam met die feit dat goeie kuns nie ‘n ompad om pyn neem nie. Ons weet dit lewe is nie maklik nie. Niemand tref dit mooi met die heelal nie, het NP van Wyk Louw gesê (“Groot Ode” in Tristia). Ons almal het ons seer en swaarkry. Kuns wat die lewe versuiker of ver-sentimentaliseer kom dikwels as ontoereikend en on-eg oor. Die rede is dat skoonheid nie teenoor pyn en kwesbaarheid staan nie, maar juis dikwels pyn op so ‘n manier ver-woord of ver-klank of ver-beeld dat dit helend bemiddel word. ‘n Hele paar jaar gelede – ek was nog hier in die gemeente ‘n predikant – het ek een Maandag ‘n fliek gaan kyk by Cavendish Square oor Henri Loutouse Lautrec, die Franse skilder wat bekend is vir sy uitbeeldings van die Moulin Rouge en vir die tyd wat hy in ‘n bordeel gebly het. Ek kan nie veel van die rolprent onthou nie, maar wat ek wel onthou is dat die rolprent die indruk by my gelaat het dat goeie kuns in staat is om vreugde en pyn te kan saamdink. Die stryd van die kunstenaar was juis om aan die vreugde én die pyn van die lewe reg te laat geskied. Goeie kuns (goeie letterkunde, beeldhouwerk, skilderkuns, musiek, noem maar op), die kuns wat die moeite werd is om bewaar te word, neem nie ‘n ompad om pyn nie. En dieselfde geld vir my van verantwoordelike geloofsuitlewing. Ons is nou in die lydenstyd. Die Christelike geloof weet van pyn en lyding. Die simbool van dié geloof is immers ‘n kruis. Maar die Christelike geloof weet ook van vreugde. Dié geloof weet nie net van lydenstyd en Goeie Vrydag nie, maar ook van Paassondag. Dit weet van opstanding en nuwe lewe. Pyn en vreugde word saamgedink.
Ek wil graag afsluit met ‘n aanhaling wat die skielkundige Carl Jung iewers oor kuns (of die soeke na argetipes in kuns) gemaak het. Wat hy oor kuns sê geld myns insiens oor geloof. En ek dink dit verwoord iets van die rede hoekom mense bereid is om selfs te midde van armoede en tekort geld uit te haal om musiek, of ‘n beeldhouwerk, of ‘n boek, of ‘n skildery te koop. Jung het gesê: “Art releases those forces which have enabled humankind to find refuge from every peril and to outlive the longest night.”
Kommentaar