Armoede
VERKLARING DEUR DIE NGK EN VGKSA
RAKENDE ARMOEDE IN SA
Die gesamentlike bediening vir Armoede en Sorg van die NGK (Wes-en-Suid-Kaapland) en die VGK (Kaapland) het op 15 en 16 Maart 2011 in Bellville met nog 200 afgevaardigdes vergader om saam te besin oor armoede in Suid- Afrika.
In die gesamentlike sessies is daar na die volgende sprekers geluister:
Aartsbiskop Thabo Makgoba
Prof Sampie Terreblanche
Mnr Moeletsi Mbeki
Prof Stef Coetzee
Dr Franklin Sonn
Mnr Graham Power
Mnr Tony Ehrenreich
Mnr Jac Loubser
Prof Russel Botman
Mnr Tim du Plessis
Asook enkele ander verteenwoordigers uit die media en die kerk.
Na die tyd is die volgende verklaring uitgereik
1. Die vergadering het as gelowiges in die Drie-Enige God en lede van twee kerke met ’n gedeelde verlede en ’n gesamentlike toekoms, bymekaargekom om saam te luister na diverse stemme oor die brandende kwessie van armoede. Ons wou graag betrokke raak by ’n proses van geloofsonderskeiding. Ons wou graag na die stem van God self luister. Na twee dae sou dit arrogant wees om te sê dat ons al die antwoorde het, maar ons is wel seker dat ons kommerwekkende asook hoopvolle boodskappe gehoor het.
2. Ons is diep bekommerd oor die groeiende armoede in Suid-Afrika en het bymekaargekom om te soek na sistemiese antwoorde en oplossings vir die probleem. Dit is met ongeduld dat ons onsself as kerke, maar ook alle ander rolspelers in Suid-Afrika, verantwoordbaar wil hou. Met ’n nederigheid maar ook met ’n profetiese dringendheid wil ons dus die volgende verklaar:
• Ons is diep bekommerd oor die huidige stand van opvoeding en onderwys in Suid-Afrika. Ons is dankbaar vir die toewyding van baie onderwysers, maar is ook bekommerd oor ’n skrikwekkende afwesigheid van werksetiek, roepingsbewustheid en kapasiteit by sommige onderwysers en administrateurs. Ons laat ons kinders in die steek en kweek nog ’n verlore generasie. Dit kan eindig in ’n nuwe rewolusie. Ons glo dat die kerk op een of ander manier weer mede-verantwoordelikheid vir die onderwys sal moet aanvaar. Ons besef dat dit unieke uitdagings aan ons stel, maar ons kan nie langer wag nie.
• Ons is diep bekommerd oor die feit dat die regering onaanvaarbare hoeveelhede geld mors. Ons het ’n verbruikersekonomie geskep teenoor ’n ware investerende en produserende ekonomie. Ons is diep bekommerd oor ons groeiende skuldlas en vrees die dag as die geld gaan opraak. Ons is diep bekommerd oor ’n groeiende persepsie dat die staat toelaes gebruik om die ontmagtigde armes te manipuleer vir eie gewin.
• Ons is diep bekommerd oor die groeiende gaping tussen rykdom en armoede in Suid-Afrika (Gini-koëffisiënt) Ons het kennis geneem dat die grootste gaping nou bestaan tussen die nuwe swart elite en die massas werklose swart mense. Nuwe beleid is geskep wat eintlik net ’n klein minderheid bevoordeel, terwyl die groot massas steeds ly. Na 1994 het die ekonomie struktureel min verander. Die gesig van die ekonomiese elite het wel verander.
• Ons het gehoor dat daar ‘n besliste verband tussen swak leierskap en groeiende armoede is. Dit sal aangespreek moet word.
• Ons het opnuut besef dat armoede ’n diep emosionele en psigologiese kant het. Daarmee saam het dit ook ’n diep spirituele dimensie. As volgelinge van Jesus Christus moet ons mekaar gedurig daaraan herinner.
• Ons het opnuut die belang van die burgerlike samelewing besef. Die kerke is deel van hierdie burgerlike samelewing. Die kerke alleen kan hierdie probleem nie oplos nie. Ons wil saam met die ekumeniese wêreld en vennote soos nie-regeringsorganisasies en die sake sektor, hande vat om met ’n eenheidstem te praat. Die stemme van ander kerke en sakeleiers wat ons by hierdie konferensie gehoor het, het ons moed gegee en ons harte warm gemaak. Ons verlang egter ook na die dag wanneer ons waarlik as gelyke vennote met staat en besigheid sal saamwerk om ’n sterk netwerk teen hierdie aanslag te vorm.
• Ons is bekommerd dat ons deel is van ’n samelewing wat die skyn van voorspoed voorhou, terwyl die waarskuwingsligte flikker vir die onderliggende verbrokkeling van die samelewing. Ons sien diep krake as dit kom by ware versoening en heling in gemeenskappe. In baie opsigte is die morele vesels van ons samelewing aan die disintegreer. Sonder enige twyfel verhoog dit die krisis wanneer dit by armoede kom.
• Ons glo dat die hele kwessie van armoede spesifieke uitdagings aan spesifieke sektore van die samelewing rig, maar as ’n kerk behoort ons ons lidmate ook op ’n persoonlike vlak uit te daag. Die bedrag wat jy byvoorbeeld aan jou huishulp betaal, behoort ’n saak vir persoonlike oorweging en nadenke te wees, bo en behalwe die riglyne vir minimumlone wat geld. Hierdie is ’n profetiese uitdaging aan alle welvarende mense. In ’n land waar 20% van die mense 80% van die inkomste en besittings besit, sal ons ons moet verootmoedig voor God en onsself moet afvra wat ons Bybelse verantwoordelikheid is.
• Ons wil die armes egter ook waarsku teen ’n slagoffer-mentaliteit en ’n gesindheid van blaam-verskuiwing. Dit gaan niks verander nie.
• As verenigende kerke wil ons graag meewerk om ’n gesindheid van trots, mede-eienaarskap en lojaliteit onder alle mense in die land te herstel. Rassisme het geen plek in die stryd teen armoede nie.
• Ons wil graag gemeentes en lidmate bedank vir dit wat hulle reeds doen. Ons weet dat ons kerke jaarliks miljoene rande aan barmhartigheidsaksies bestee. Ons wil julle aanmoedig om met ywer daarmee voort te gaan. As kerke sal ons voortgaan om koppe bymekaar te sit oor hoe die probleem ook op praktiese maniere aangespreek moet word.
• As kerke wil ons graag ons solidariteit met die armes verklaar. Ons wil ons eie nalatigheid in baie gevalle bely. Ons wil bid dat ons God ons die genade sal gee om ’n besliste verskil in hierdie geliefde land van ons te maak.
Braam Hanekom (NGK)
Averell Rust (BADISA)
Carl Swart (VGK)
Kommentaar